Saturday, March 27, 2010

‘Die wêreld moet weet van dié polisiegeweld’



2010-03-20 23:29

Me. Magdel Steyn van Pretoria kry wêreldwyd steun nadat videomateriaal oor die brutaliteit van die Pretoriase metropolisie teen haar en haar ma, Annamarie, gebruik het, bekend geword het. (Foto: Sharief Jaffer)

Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's
Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's


Marlene Malan
Sowat 20 lede van die Tshwane-metropolisie in Pretoria het op haar toegesak, haar rondgepluk, hardhandig vasgedruk en allerlei beledigings toegesnou.

Dié polisiegeweld weens haar beweerde parkeeroortreding is op kringtelevisiekameras vasgevang en beeldmateriaal van dié voorval is verlede Sondag op die televisieprogram Carte Blanche vertoon.

Die wêreld moet weet van die fisieke en verbale geweld wat sy op 30 November verlede jaar in die Pretoriase middestad onder die stadspolisie gely het, het me. Magdel Steyn (24) aan Rapport gesê.

Die beeldmateriaal, wat deur AfriForum bekend gemaak is, sal as bewysstuk dien in ’n siviele eis wat Steyn en haar ma, mev. Annamarie Steyn, van die Oos-Rand teen die Tshwane-metropolisie gaan instel.

Onder die klagte tel polisie­bru­ta­li­teit, onregmatige inhegtenisneming en menseregteskending.

Die verbale misbruik was net so erg as die fisieke polisiegeweld, het ’n steeds geskokte Steyn jr. gesê.

“Ek is rondgeruk, hardhandig vasgedruk en 15 uur lank in ’n tronksel sonder kos of water aangehou. My ma is van my af weggestamp, gedwing om kilometers te stap, duisende rande het uit ons kar verdwyn, en ons kar en besittings is beskadig.

“Maar wat die ergste is, is dat ek ‘wit gemors’ genoem is – ’n ‘wit koei’, ’n ‘rassis’, ’n ‘moordenaar’, wat ‘omdat ek wit is van beter moes geweet het’.

“’n Vroulike polisiebeampte het gesê sy sal my ‘laat ly’ en nog een dat dat ek ’n ‘cheeky wit meisietjie’ is.” En: “Ons moet wit misdadigers soos jy van die pad af kry voor die Wêreldbekersokker-toernooi.”

Steyn jr. vertel sy het dié dag twee keer om die blok van Esselen- en Meintjiesstraat in Sunnyside gery nadat sy Steyn sr. afgelaai het.

Steyn sr., wat moeilik loop weens ’n knieprobleem, sou binne minute terug wees.

“Ek kon nêrens parkeerplek kry nie en ek kon my ma ook nie ver terug kar toe laat loop nie. Ek het voor twee motors wat reeds in Meintjiesstraat dubbel geparkeer was, gaan staan.

“My kar was nooit afgeskakel nie; die noodligte was aan. Ek was nooit ’n versperring nie.”

Eers het ’n insleepvoertuig haar probeer verwilder, waarna ’n man in siviele drag aan haar venster kom ruk en slaan het.

Steyn jr. het verder gery, en dieselfde man het aan haar deur geruk.

“Toe ek 20 m verder agter ’n ander voertuig stilhou, was die insleepvoertuig en ’n klomp polisiekarre binne sekondes by my.

“So 20 mense het om my kar kom staan. Eers toe het die onbekende man sy polisiebaadjie aangetrek. Net sommige was herkenbaar as polisiebeamptes.”

Toe sy haar ma sien naderkom na die motor om te probeer help, “het drie mans van ‘kar vat’ en ‘arrestasie’ gepraat”.

Steyn jr. is rassistiese beledigings toegesnou en twee polisievroue het haar teen die insleepvoertuig se bak vasgedruk en geboei.

Steyn jr. is in ’n polisiemotor “ingedwing”, haar motor is weggesleep en Steyn sr. moes 2 km na die polisiekantoor stap.

Die beeldmateriaal toon dat Steyn jr. geen beampte met haar motor “gestamp” het soos die metropolisie beweer nie.

Die Tshwane-metropolisie ondersoek die voorval.


- Rapport

Kommentaar deur Sonny

Wat 'n kleurvolle SA is die'?

Is dit waarvoor ons gestem het?

No comments:

Post a Comment