Wednesday, March 31, 2010

AfriForum lê beslag op Zim-eiendom







AfriForum lê beslag op Zim-eiendom



2010-03-31 01:12

Marelize Potgieter
Kaapstad – ’n Oorwinning is gister deur die burgerregtegroep AfriForum gevier met die beslaglegging op ’n eiendom van die Zimbabwiese regering in Kenilworth van sowat R2 miljoen. Dit volg op ’n maande lange regstryd voor die SAOG-tribunaal wat deur AfriForum namens boere in Zimbabwe gevoer is om te bewys dat die Zimbabwiese regering se grondhervormingsprogram rassisties en onwettig is.Die tribunaal se uitspraak dat daar op die Zimbabwiese eiendom beslag gelê mag word, is in die Noord-Gautengse hooggeregshof geregistreer. ’n Kostebevel van R150?000 ten gunste van AfriForum is ook deur die SAOG-tribunaal uitgereik. Volgens mnr. Willie Spies, prokureur van AfriForum, beoog hulle om op nog drie eiendomme van die Zimbabwiese regering in onderskeidelik Kuyperstraat 53 en 55 in Zonnebloem en Tennantstraat 46A in Wynberg beslag te lê. Die regsprosesse vorm deel van AfriForum se burgerlike veldtog teen Zimbabwe.Spies het gister self die dokumente van beslaglegging na die woning in Salisburyweg 28 gevat.Die woning word tans deur ’n mnr. Gavin Benny gehuur. Hy sal nie gevra word om dit te ontruim nie.Nadat die SAOG-tribunaal in 2008 in die guns van mnr. Michael Campbell en nog 78 Zimbabwiese boere wat van hul plase afgesit is, beslis het, het pres. Robert Mugabe die uitspraak afgemaak as “snert en van geen betekenis” vir Zimbabwe nie. In Junie 2009 het die tribunaal dié uitspraak met ’n uitspraak van minagting en ’n kostebevel opgevolg.Dit is in Februarie vanjaar in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria geregistreer, wat die kostebevel plaaslik uitvoerbaar gemaak het.Volgens Spies is dit ’n simboliese oorwinning vir die mense van Zimbabwe wat alle hoop verloor het.“Dit demonstreer die beginsel van regverdigheid.”Volgens mnr. Moreboys Mune-tsi, ’n verteenwoordiger van die Zimbabwiese Stigting vir Billikheid en Geregtigheid, wat ook die beslaglegging bygewoon het, steun die stigting die projek van AfriForum.“Dit wys dat die Zimbabwiese regering sy grondwetlike plek as ’n ontwikkelende nasie verloor het.”
- Volksblad

No comments:

Post a Comment