Tuesday, March 23, 2010

Gesin wreed aangerand


Gesin wreed aangerand
2010-03-23 02:02


Die erg beseerde Marthinus van Vuuren
Foto's · Lesersfoto’s · Volksblad in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's
Vicüs Bürger
“Dit was iets uit ’n riller,” sê mnr. Johan van Vuuren nadat vyf van sy geliefdes “onmenslik wreed” by sy ouerhuis op Jagersfontein aangeval is.
Sy ouers, Boet (80) en Francina (77), broers Marius (44) en Marthinus (35) en broerskind Juan (13) is Sondagaand in hul huis in Harringtonstraat, Jagersfontein, deur ses mans met grawe en messe aangeval.
Die aanvallers het geen genade gehad nie en het ’n bebloede huis agtergelaat.
Selfs Boet en Marius is erg aangerand, al is albei in rolstoele. Hulle is onderskeidelik deur ’n rugmurgvirus aangetas en in ’n motorongeluk beseer.
Nadat Johan, ’n werknemer in die logistieke afdeling van die Grootvlei-tronk by Bloemfontein, die skokoproep oor die aanval gekry het, het hy hom na Jagersfontein gehaas. Hy was egter nie voorbereid op wat hom in die huis sou begroet nie.
“Bloed was teen die mure en op die vloer.”
Boonop was byna die hele huis deur die booswigte omgekeer.
Johan vertel sy familielede van Jagersfontein het net die televisienuus klaar gekyk toe mev. Van Vuuren die voordeur vir die honde gaan oopmaak het. Die aanvallers het toe die huis binnegestorm, haar gegryp en as ’n buffer gebruik.
Johan sê sy pa hou altyd sy .22-pistool by hom.
“My pa wou skiet, maar hy kon nie. Hy was bang hy tref my ma.”
Die familielede is met messe gesteek, met grawe geslaan en geskop. “Marius is met ’n graaf uit sy rolstoel geslaan,” sê Johan.
Een van die aanvallers het met Boet om sy vuurwapen geworstel. Dit is uit sy hand gegryp en hy het een van sy vingers gebreek.
Hy is gedwing om die kluis oop te sluit waaruit die booswigte R38 000 gesteel het.
Die aanvallers het met die geld, pistool en ander items gevlug.
“Dit is nie menslik nie,” het Marthinus gister uit sy hospitaalbed in die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein gesê.
Johan sê sy ma is in ’n koma en het bloeding op die brein. Sy is in die intensiewesorg-eenheid van die Pelonomi-hospitaal in die stad opgeneem.
Marius word in dieselfde hospitaal behandel. Sy linkerarm is gebreek.
Juan is na die hospitaal op Jagersfontein gebring nadat hy vermoedelik weens die skok inmekaargesak het.
Johan sê sy pa is vir sy wonde behandel en het nou by een van sy ander huise op die dorp ingetrek. “Hy wil nie meer daar (die huis van die aanval) bly nie.”
Johan sê hulle is stukkend. “Dit voel ek wil breek, maar deur genade hou ek uit. Hoe val jy ’n ou vrou wat skaars op haar bene kan staan en mense in rolstoele aan?”
Niemand is in hegtenis geneem nie. Enigiemand met inligting kan speurder-insp. Poena Rodgers by 082-466-8479 bel.
Die familie bedank Rodgers en insp. Tiekie Ontong van die Jagersfontein-polisie en waardeer die ondersteuning van die gemeenskap.
- Volksblad

No comments:

Post a Comment