Tuesday, March 23, 2010

Skurke vas danksy Media 24


Skurke vas danksy Media

242010-03-23 01:03

Jacques Pauw
MAPUTO. – Nog drie vermeende mensehandelaars wat daarvan verdink word dat hulle jong meisies en vroue as seksslawe in Suid-Afrika verkoop het, is in die Mosambiekse hoofstad, Maputo, aangekeer.
Media24 se ondersoekspan het die afgelope maand ’n mensehandel-sindikaat in Mosambiek geïnfiltreer wat die afgelope ses jaar honderde vroue en meisies – sommige net 16 jaar oud – na Suid-Afrika gesmokkel het en aan bordele en klubs verkoop het.
Drie sindikaatlede – wat gesê het dat hulle elke maand tussen 30 en 40 vroue en meisies na Suid-Afrika bring om as prostitusie in die seksbedryf te werk – is verlede Woensdag in Maputo vasgestrek nadat inligting oor hul bedrywighede aan die Mosambiekse polisie gegee is.
Die sindikaat werf Mosambiekse meisies deur hulle werk aan te bied as kelnerinne of kinderoppassers. Hulle word in veilige huise in Maputo gehou voordat hulle na Suid-Afrika gesmokkel word. Wanneer hulle hier aankom, word daar vir hulle vertel dat hulle prostitute gaan wees. As hul weier, word hulle geslaan, geïntimideer en selfs verkrag.
Die sindikaat, wat uit Mosambiekers en Chinese bestaan, bring ook jong Chinese vroue per vragskip uit daardie land tot in die hawestad Beira. Hulle word dan via Maputo na Suid-Afrika gesmokkel om in bordele te werk.
Ná ’n ontmoeting tussen Media24 en ’n hoë amptenaar in die departement van binnelandse sake in Mosambiek – die polisie in dié land resorteer onder dié ministerie – is ’n spesiale polisie-ondersoekspan saamgestel en Woensdag is drie lede van die sindikaat in ’n kroeg in Maputo in hegtenis geneem onderwyl hulle ’n 18-jarige meisie aan die Media24-ondersoekspan probeer verkoop het.
Dié naweek is nog drie Chinese burgers, twee mans en ’n vrou, in Maputo in hegtenis geneem nadat die polisie ’n lokval vir hulle gestel het. Die twee mans is glo gevang kort nadat hulle met ’n vlug van Johannesburg na Maputo geland het. Na verneem word, word nóg mense gesoek in verband met die aktiwiteite van dié sindikaat.
Mosambiek het in 2008 omvattende mensehandel-wetgewing aanvaar, maar niemand is nog ooit in dié land aan só ’n misdaad skuldig bevind nie. Die huidige reeks inhegtenisnemings kan die eerste keer wees dat ’n mensehandel-saak in die Mosambiekse howe dien.
- Volksblad

No comments:

Post a Comment