Wednesday, March 24, 2010

Koerant pleit in hof om Mc Bride "moordenaar " te noem




Koerant pleit in hof om McBride ‘moordenaar’ te noem


2010-03-24 01:22

Philip de Bruin
Kaapstad
Om mnr. Robert Mc­Bride, gewese hoof van Ekurhuleni se metropolisie, in ’n koerantberig ’n “moordenaar” te noem, behoort regtens toegelaat te word – solank dit billike kommentaar is.
Só voer die dagblad The Citizen en drie van sy redaksielede aan in ’n appèlaansoek wat gister by hoofregter Sandile Ngcobo in die konstitusionele hof ingedien is.
Die appèlaansoek is teen ’n bevel vroeër vandeesmaand waarin die appèlhof beslis het om McBride ’n moordenaar te noem na aanleiding van sy skuldigbevinding aan moord ná die McGooose-kroegbom is lasterlik. Dit is omdat die Waarheid-en-Versoeningskommissie aan McBride kwytskelding verleen het.
Hoewel die “historiese feite van sy dade” nie daardeur uitgewis word nie, kan nie toegelaat word dat hy tot aan die einde van sy dae ’n moordenaar genoem word nie.
McBride is skadevergoeding van R150 000 weens laster toegestaan.
In gister se stukke voer The Citizen onder meer aan dat die konstitusionele hof as hoogste hof in die land oor grondwetlike sake finaliteit moet bring oor die reg van die media en die publiek op vryheid van uitdrukking, “insluitende vryheid van die pers en ander media”.
Voorts is dit in die openbare belang dat daar duidelikheid kom oor in watter mate misdade wat in die apartheidsjare gepleeg is op openbare forums bespreek mag word as misdadigers amnestie gekry het.
Die appèlhof het boonop gefouteer deur nie te aanvaar dat The Citizen se verwysing na McBride as ’n moordenaar “billike kommentaar” was nie, voer die koerant aan.
Ngcobo oorweeg die aansoek.
- Die Burger

No comments:

Post a Comment