Friday, March 26, 2010

Boere - moordliedjie glo verban


Boere-moordlied glo verban

2010-03-26 17:50
Verwante skakels
Klagtes stroom in oor Julius se liedjie
Boere lê 351 klagtes teen Malema
‘Skiet die Boere’ gesing om menseregte te vier
Johannesburg – Die SABC het Vrydag berig dat dit nou glo onwettig is om die kontroversiële ‘Skiet die boere’-lied te sing. Die hooggeregshof in Johannesburg het na bewering beslis dat dit ongrondwetlik en onwettig is om die woorde van hierdie lied te sing. Hierdie beslissing kom na ‘n dringende interdik deur ‘n sakeman vanaf Delmas. Willem Harmse wou verhoed dat sy kollega Mahomed Vawda die woorde van hierdie lied gebruik op plakkate tydens ‘n optog teen die hoë misdaadsyfers in Mpumalanga en Gauteng. Volgens Vawda beteken die woorde figuurlik “moor apartheid” en wou hy dit om hierdie rede by die betoging sing. Harmse was egter van mening dat hierdie lied ‘n vorm van haatspraak is en dat dit rassehaat aanmoedig. - Sapa
Lees meer oor: hof

1 comment:

  1. FW vra Zuma om ‘toon van debat’ te kalmeer


    Mar 26 2010 07:45 AM

    Johannesburg

    Oudpres. F.W. de Klerk het aan pres. Jacob Zuma geskryf en sy kommer uitgespreek oor die “toon van die nasionale debat”, veral ná mnr. Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, se uitsprake en dié liga se optrede.

    De Klerk het Woensdag aan Zuma geskryf en gevra “om die leiding te neem om die toon van die nasionale debat te laat bedaar”.

    Hy het Zuma ook gevra dat hy dit só sal doen dat dit nasionale eenheid sal bevorder en “ooreenstem met die letter en gees van die Grondwet”.

    Volgens De Klerk is baie Suid-Afrikaners diep bekommerd oor die “toenemend inflammerende aard van sommige fasette van ons nasionale debat” – en veral ook oor die onlangse verklarings en optrede van Malema.

    Hy het spesifiek verwys na die liedjie “Skiet die Boere” wat Malema gesing het en die ANC-jeugliga se optrede verlede week toe hulle ’n petisie van AfriForum Jeug met die name van 1 600 vermoorde boere op vertrap het.

    De Klerk het ook sy teleurstelling uitgespreek oor mnr. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, se verdediging van die “Skiet die Boere”-liedjie.

    “Mnr. De Klerk is diep bekommerd dat sulke optrede en verklarings deur regse ekstremiste uitgebuit kan word om rasseverhoudinge verder te versleg.

    “Hy het gesê dat sulke optredes ’n plofbare klimaat begin skep waarin enige bykomende aanhitsende verklaring of aksie tot ’n ongelukkige voorval kan lei,” sê die F.W. de Klerk-stigting in ’n verklaring.

    “Dit sal ’n onbekostigbare ramp wees – veral op die vooraand van die Wêreldbeker-sokkertoernooi.”


    Die Burger

    ReplyDelete